Die vertoning, Seer en Siter, bestaan uit 35 van die bekroonde digter T.T. Cloete se gedigte, waarvan 30 toonsettings is. Elke gedig/toonsetting is soos ʼn mini toneel binne die grotere bedryf, met toneeloorgange en alles wat daarmee gepaard gaan. Elke toonsetting, maak nie saak hoe kort nie, word benader as ʼn individuele kunswerk – met sy eie rekwisiete, beligting, musikale verwerking/styl en bewegings. Die vertoning duur net minder as ʼn uur, maar daar is ʼn enorme hoeveelheid detail, beplanning en toneeloorgange in. Om ʼn fragmentariese gevoel te voorkom word daar gebruik gemaak van deurlopende karakters in die vertoning (drie harlekyne in die klassieke styl) wat as ʼn universele element aangewend word. Die sanger en harlekyne dra dramatiese grimering om verder hierdie sintese tussen die verskillende en uiteenlopende elemente te bewerkstellig, saam met ʼn aantal ander motiewe wat dwarsdeur die vertoning gebruik word. Die tema-gedig Seer en Siter is deur T.T. Cloete self gelees, asook Anna, die liefdesgedig oor sy oorlede vrou.
Kopiereg voorbehou 2009 ©